Ek het op 'n keer gelees dat party manne taal gebruik as wegsteekplek vir gedagtes, maar my ervaring is dat baie meer van hulle taal gebruik as plaasvervanger vir gedagtes.
'n Sakeman se gesprekke moet beheer word deur minder en eenvoudiger reëls as enige iets anders wat dié mensaap doen. Dit is:
Hê iets te sê.
Sê dit.
Bly stil.
As mens begin nog voor jy weet wat jy wil sê en dan aanhou nadat jy dit al gesê het, beland 'n handelaar óf in 'n regsgeding óf op straat, en daar's 'n kortpad tussen die hof en haweloosheid. Hier by my word 'n regsafdeling (wat hope geld kos) in stand gehou, maar dis daar om te help om my uit die hof te hou.
As mens by 'n meisie gaan kuier, of ná ete met vriende gesels, kan jy maar jou geselskap soos 'n Sondagskoolpiekniek hanteer en elke nou en dan stop om blommetjies te pluk; maar in die kantoor moet jou sinne die kortste afstand tussen twee punte wees. Slaan die inleiding oor, skrap die slotbetoog en hou op vóór jy by tweedens kom. Met kort preke vang jy die sondaars; die kerkraad dink in elk geval nie dat húlle lang preke nodig het nie. Gee stommerike die eerste sê, en vroumense die laaste. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. En natuurlik, 'n bietjie botter weerskante kan nie skade doen as dit bedoel is vir 'n man wat van sy botter hou nie.
Onthou tog ook dat dit baie makliker is om slim te lyk as wat dit is om iets te sê wat van wysheid spreek. Sê minder as die ander man en luister meer as wat jy praat; as mens besig is om te luister, verklap jy geen geheime oor jouself nie en vlei jy die ou wat dit wél doen. Gee meeste mans 'n goeie luisteraar en meeste vroue 'n dikgenoeg skryfblok en hulle sal jou alles vertel wat hulle weet. Geld praat – maar net as die baas 'n los tong het, en dan is die sêgoed altyd aanstootlik. Armoede praat natuurlik ook, maar niemand stel belang om sy storie te hoor nie.